Son …

Ek wil so graag vir jou sê
Dat ek my hart vir jou sal gee
Op ‘n silwer skinkbord en met liefde garneer
Dat ek jou nooit sal verneuk nie
En wil jou saamvat vir vakansies by die see.

Ek wil hê jy moet verstaan
Jy maak my mal, gelukkig en skaam

Ek wil hê dat jy in my oë moet inkyk
En sien hoe ek oor jou voel
Want dis nie altyd maklik om dit te gelyk
Ek is partykeer in my kettings en spinnerakke toegewoel

Ek is bang dat ek jou sal verveel
Bang vir iets kosbaar en breekbaar
Vreesbevang vir ‘n tree in die donker
Dat ek jou hart sal beseer.

Ek wil jou elke dag by my hê
Jou hand vashou in die kerk
En aan jou dink by die werk
Jou beskerm teen pyn en leed
Ek wil he jy moet weet.

- Manie Geldenhuys

Daar’s ‘n trein…

En hy is nie oppad na Matjiesfontein nie! Ek praat natuurlik hier van Japannese treine.

shinkansen.jpg

Mens sal nooit kan dink hoeveel mense daagliks met treine van punt A na punt B ry nie. Soos in meeste ander lande kan mens maandkaartjies koop en met daardie kaartjie kan jy dan in alle rigtings ry. Jy koop die kaartjie volgens die afstand wat jy ry, so dit maak nie saak in watter rigting jy gaan nie.

Daar is so baie treine en almal is ‘n ander kleur. Die groen treine is amper soos ons destydse melktrein wat op elke stasie stop. Net so terloops, daar is hierdie Japanese vrouestem wat jou heeltyd als vertel van die area waardeur die trein ry en sy vertel jou ook van die naaste winkels en wat jy alles daar kan koop en die pryse daarvan. Dit is natuurlik n bonus, maar die toon van die stem is nie altyd so aangenaam nie, om die minste te sê. Dit kan naderhand erg op mens se senuwees begin werk.

Die rooibruin treine is dié wat basies net by die hoofstasies stop en is ook effens vinniger as die groen treine. Hulle sal bv. op Jhb se stasie stop en dan weer in Pta, hulle stop by geen klein stasies nie. Dan is daar natuurlik by die moltreine, Hulle loop vir kilometers en kilometers onder die grond en ek kan nou nog onthou dat hulle nogal vinnig is. Die uitleg daarvan is ook anders as die groen en die rooibruin treine, wat bogronds op die gewone spore loop.

Ek het my verstom die eerste paar kere wat ek so onder die grond met die treine gery het. As mens van die trein afklim, is jy direk binne-in n winkelsentrum. Meeste van die winkelsentrums het vlakke. Omdat die land so oorbevolk is, is daar BAIE sentrums en ook baie mense in hierdie sentrums. Omdat dit nie werklik dag of nag in hierdie sentrums is nie, het dit gereeld gebeur dat ek heeltemal tred verloor het met die tyd. Daar is natuurlik rekenaarspeletjies in hierdie sentrums en as ek praat van speletjie-sentrums, dan praat ek van ‚n area so groot soos een straatblok, waar kinders hulle tyd spandeer aan hierdie speletjies.

En laastens, maar nie die minste nie, is daar die Romanscar en die Bullet trein (shinkansen). Die Romanscar is net n meer opgedolliede trein. Waar die Bullet basies soos ‚n vliegtuig binne lyk, is die Romanscar net meer vyfster. As ek reg onthou dan doen die Bullet n spoed van amper 300km per uur en die Romanscar doen +- 200km per uur.

So, een van die dae het ons mos die Gautrein - wonder of hy hierby gaan kan kers vashou?!

Op die oop see!

Ons was gister by Houtbaai uit met een van die talle bote wat toeriste uitneem na die rob-eiland. Dit was SO lekker!

Hier is waar ek baie maklik die grootste deel van my lewe sal wil deurbring:

Merry Christmas!

To everybody!

 

Oom Totius sê …

Totius (Jakob Daniël du Toit, 1877-1953):

Totius se jukstaponering van die gegoede treinpassasier en die arm meisietjie by die tent wat altwee na mekaar se wêrelde hunker, bly tot vandag toe ‘n treffende uitbeelding van die mens se rustelose strewe na die “beter lewe” wat altyd op ‘n ander plek sou bestaan.

Repos ailleurs (Die rus is elders)

In die eensame veld staan ‘n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;

ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
‘n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”

Naas die eensame tent staan ‘n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.

Die kreef, donker en toe die storm!

Ek en Kenny, die ou wat ek genoem het in die vorige storie, het een nag besluit om te gaan kreef trek. Kenny was ‘n ou, geharde seeman en het geen perke geken nie.

Saam het ons besluit om ‘n trip om die berg, by Gordonsbaai, te doen. Die weer het nie te sleg gelyk nie en vroegaand vaar ons toe uit by Gordonsbaai se hawe. Daar was vier 25 liter petrolkanne op die skuit en almal was vol. Padlangs is dit so 15km om die berg van Gordonsbaai na Rooiels en nog omtrent 5km na Hangklip. Hier, by Hangklip, het dit destyds nog gewemel van die kreef.

Wel, ons het rustig gevaar oppad na Rooiels, maar om die knikkie by Hangklip was die omstandighede ‘n hele ander storie. Die Suidooste wind lol maar meeste van die tyd in daardie area. Dit is natuurlik ideaal vir duik, want die wind waai meeste van die tyd die water plat en dan is die sig uitstekend. Die diepte wat mens daar kan duik is tussen 15 en 20 voet. (snorkelduik)

Maar duik hier is weer ‘n ander storie vir ‘n ander dag. Hierdie keer wil ek vertel van kreeftrek in die donker en as ek praat van donker duister nag, so erg dat jy skaars jou hand voor jou oë kan sien. Dis natuurlik nie heeltemal ‘kosher’ om in die donker kreef te trek nie, maar dit nou daar gelaat.

My fishfinder was van so ‘n aard dat ek die regte diepte kon kry bepaal, sodat ons nie die hele tou wat vas aan die nette was, hoef af te gooi nie, anders sal dit net te veel tyd neem. Die ‘finder’ het ook vir my gewys daar is beweging op die spesifieke rif.

Ou Kenny het glad nie op hom laat wag nie en sommer die eerste nette ingegooi. Eers die anker uitgegooi natuurlik, om ons lekker vas te hou in die wind, wat al hoe meer aan die optel was. Ek kon nie eintlik vir Kenny sien voor in die boot nie, want dit was donkermaan en ons was basies op die oopsee, met enige ligte van die land af ver weg.

Natuurlik kon ons ook nie ‘n sigaret rook nie of enige lig self maak nie, want lig van enige aard sou moontlik die aandag trek van die seevissery inspekteure.

So het ons een na die ander net gegooi en later weer opgetrek en daar was al hoe meer kreef aan boord! Ons was so besig met die kreef dat ons geensins opgelet het na die storm wat besig was om al hoe nader te kom nie.

Na so drie ure het ek begin ondersoek instel oor hoeveel kreef teen hierdie tyd al op die boot (in die visbakke) is. Goeie fok! Ek het self geskrik toe ek met my hande in die bakke voel, want ek het nie regtig besef hoe vinnig ons die kreef getrek het nie. Net daar en dan het ek vir Kenny gesê, genoeg is genoeg!

Ons het die anker opgetrek en die enjins het begin sing oppad terug om die berg. Teen hierdie tyd was dit omtrent een uur die nag/oggend. Net om die knik by Rooiels het ek tot die besef gekom dat ons vannag ‘n helse pakslae gaan kry op hierdie water. Die wind het intussen Noord gedraai en waai toe reg van voor en ons moet teen die wind in beweeg.

Een genade was dat ek voorheen saam met ou manne op die see was en geluister het toe hulle van kompasse, rigting en grade en so aan, gepraat het. Dit het intussen begin reën en die reën het met tye so hard geval, dat ons letterlik gevoel het of ons onder ‘n stort staan met die krane voluit oop. Ons kon NIKS, nêrens sien nie. Al wat ons kon hoor, was net hoe die boot se neus teen die groot, rollende water slaan en die water se geklots, soos wat dit inrol oor die boot se kante.

Wel, nie ek of Kenny het ‘n woord gepraat nie. Daar was ook nie eintlik tyd vir bang wees nie. Ek het nog probeer koershou met behulp van die kompas, toe dié se liggie net begin flikker en toe heeltemal doodgaan. Nou was ons in ‘n situasie van veg vir ons lewe in hierdie groot water wat rol en rol.

Ek het die boot verder op koers probeer hou, soos wat ek onthou van die laaste wat die kompas nog gewys het. Die enigste lig was die fosfor indie water. Elke keer as die enjin se prop gedraai het in die water, het die fosfor lig gemaak in die water. En toe ek weer kant toe kyk, sien ek dit - ‘n skool dolfyne wat langs die boot begin swem het.

Nou, die ou seemanne se geloof is glo dat, as daar dolfyne langs jou boot kom swem is hulle besig om vir jou die boodskap te gee dat jy veilig is. Ek is nie een wat sommer bygelowe het en allerhande goed glo nie, maar op daardie oomblik wou ek dit glo en het dit ook geglo.

Ons het so bly aansukkel teen die wind en in die stortreën. Die boot was nie te groot nie, so die wind het dit maar lekker rondgeruk. Kenny het op een of ander manier ‘n rookding aangesteek gekry en het met die dolfyne begin gesels. Wat hy als vir daai dolfyne gesê het, kan ek nou nie regtig hier herhaal nie. Ek het maar net met geloof die boot gestuur na die beste van my vermoë in die rigting van Gordonsbaai.

Natuurlik het ek ook geen benul gehad van die petrol situasie in die kanne nie en om die waarheid te sê, ek wou nie weet nie. Die dag het later begin breek en ek kon so op ‘n manier beter rigting kry. Skuins voor 6 vaar ons toe die hawe in.

Ons het natuurlik heeltemal te veel kreef op die boot gehad, maar sou mos nou oorspronklik in die nag terugkom hawe toe en hier is dit toe nou al ligdag. Ons was so pootuit, dat ons regtig nie reguit kon dink nie en het boot met kreef en al uit die water gehaal en net gemaak dat ons wegkom uit die hawe.

Dae later sou ons hoor dat die kreefinspekteure daardie nag die hawe patrolleer het en ons “red handed” sou gevang het, het ons donker nag ingekom. Toe die dag begin breek, het hulle geglo niemand sou dom genoeg wees om nou nog met ‘n vrag kreef in te vaar net en is hulle uit om perlemoenduikers te gaan voorlê.

Wel, die dolfyne was daardie nag my beskermengele in meer as een sin. By die huis het ek uitgevind dat daar slegs nog omtrent ‘n liter petrol oor was in die kanne. Dus, sou ons 2-3 seemyl verder van koers afgegaan het, weet ek nie vandag so mooi wat van my, Kenny en die vrag kreef sou geword het nie, en ook nie as ons vroeër die hawe ingekom het nie!

Die sewende dag!

Sondae is maar net een van daai dae wat mens die gevoel gee dat jy ver van jou huis is en dan lees jy hierdie:

Alleen my lyf in nagslaap gehul
met die maan wat oor my bed streel
lê ek met gedagtes wat woel
en verlange wat hom kom opkrul
soos fetus in my binneste

loop ek deur die gange van my hart
loer in kamers vol herinneringe
soek jou daar tussen liefdes briewe
met songeel strikkies vasgebind
jou stem wat woorde na my bring

sterre knipoog flikker wink vir my
as gedagtes wegsweef na melkweg
waar ons name geskryf is in die hemel
staar ek na die koeëlronde silwer bal
al is jy ver staan ons onder dieselfde maan

Dinge
laat my aan woorde dink
Woorde
laat my aan dinge dink

Ewig vasgevang
in ‘n pendulum
van dinge en woorde
en woorde en dinge

My 8 feite/foute!

Platt, jy speel op die treinspoor. Om vir my te “tag” om 8 dinge oor myself te vertel, is ‘n gevaarlike storie. Miskien sal ek maar net so bolangs krap.

1. Ek het op een stadium van my lewe vir ‘n huurmotormaatskappy in Pretoria gewerk en toe kry ons ‘n groot kontrak van ‘n escort agency en ek het baie keer die “girls” heen en weer vervoer. Ek wou nou eers skryf op en af gery, maar netnou dink julle dis dalk ‘n Freudian glips!

2. Ek eet geen vleserige goed soos tamatie, waatlemoen of spanspek nie.

3. Ek het begin rook toe ek 14 was, het een keer vir 9 maande lank opgehou en toe weer begin, maar sal weer ophou as ek 40 word.

4. Ek kan nie, mag nie brandewyn drink nie, want dan het ek nie brieke nie. Ek drink nou net so af en toe ‘n rooiwyntjie.

5. Ek het in Japan ‘baseball’ gespeel, in die skool se B-span en ons het selfs teen ander lande gespeel.

6. Ek kyk eerder krieket as rugby.

7. Ek is met die maan gepla; volmaan maak my moeilik. Ek wou dit eers nie erken nie, maar hier is dit nou, swart op wit.

8. Ek het een effense bak oor en my ander oor is gewoon, plat.

En dis dit.

“Big-Boy” en Stilbaai

Big Boy!!

Ja, dit was my bootjie se naam - die naam het natuurlik niks te doen gehad met die “size” van die boot nie. Meeste manne se vissersbote kry maar hul vroue se naam, maar die ene se naam was “Q-ty” toe ek dit gekoop het by ‘n Vlootman in Simonstad. So noem ons toe nou die vissersbootjie “Big-Boy”. Met “big expectations”!

Nou ja, een van die kere wat ek ‘forever’ sal onthou, was toe ek en Anne-Marie by Stilbaai uitgegaan het om te gaan vis soek. Ons het vir Big-Boy in die water gesit en vaar toe diepwater in.

Stilbaai is +- 400km van Kaapstad en is, volgens my, een van die mooiste kusgebiede in die area. Ons het sommer net ‘n rigting ingevaar, want het nie eintlik die area so goed geken nie. So ongeveer 15  see-myl verder besluit ek om die ‘fishfinder’ aan te sit, net om te kyk hoe diep ons lê op daardie stadium. Wel, die diepte is toe so 15 meter, wat ‘n goeie diepte is vir handlyn visvang. Ek sien op die ‘finder’ daar is beweging en ons besluit om die lyne te sak. Nie lank nie of iets ruk aan my lyn en ek ruk en trek die lyn op en daar is dit, die ware Jakob, ‘n Rooi Roman. Ons het maar so bly dryf, want daar was geen wind nie en dan is dit onnodig om die anker af te gooi. En die vis het goed gebyt.

Anne-Marie het ook ‘n vis of twee aan die hoek gekry. Moet erken, die tye wat sy saam op Big-Boy was, het sy meeste van die tyd die meeste vis aan die hoek gekry. ‘Lucky Fish’ - LOL!!! Soms het die ander manne vir haar met lang oë aangekyk hoe sy die een vis na die ander gevang het. Sy sou ‘n baie goeie seeman gewees het.

Dié dag is dit egter net ek en sy, en dis op dié dag dat sy haarself suidwes geskrik het. Die water was besonders helder en sy het ‘n goeie byt gekry en begin intrek. Amper bo, loer sy oor en vertel nog vir my daar is ‘n GROOT roman aan die lyn. Die volgende oomblik begin haar lyn net te hardloop en sy gil … “nee o fok, wat is nou aan hierdie lyn?” Sy het voor in die skuit gesit en ek agter by die stuur en enjin. Met een beweging is ek toe voor by haar!

Die lyn is toe nog altyd aan die hardloop en ek vat toe die lyn by haar en probeer die ou so effe vashou want hy swem toe nou mos sy eie rigting. Gou het ek agtergekom dat hier nie net meer ‘n roman aan die lyn is nie, maar ‘n moerse ding of ‘n baie sterk ding. En o fok, die ding laat hom nie sommer intrek nie. Die lyn slaan vir my oral oor my kaal bolyf (het vroeër my hemp uitgetrek, want die son brand dan toe so lekker!) soos wat ek probeer om die meneer aan die hoek vas te hou!

Na so 40m lyn van die tol afgerol het, kry ek dit toe reg dat die ding in my rigting kom. Ek het getrek en getrek, die lyn slaan en skiet nog heeltyd teen my lyf en teen my arms ook, soos sweepslae. Anne-Marie hang oor die rand van die skuit om te sien wat de donder is aan die lyn en die volgende wat ons toe nou sien, is ‘n klein Blue-Pointer (haai) wat byna die hele rooi roman in sy bek het en daar is nie ‘n manier wat hy wil laat los nie. So, wat gebeur het was, die roman het aan die hoek gebyt en kort daarna het die haai die roman beetgekry en was nie van plan om te los nie. Die haai was seker besig om die roman te volg, toe die roman die aas aan Anne-Marie se hoek beetgekry het.

Wel, volgens ons skatting was die klein Blue Pointer so 2 meter lank en dit sit nie in enige ou se broek om so ‘n kalant te vang nie. Dit kan gedoen word, maar met die regte sterkte lyn en ‘n man moet maar wakker slaap in die diep see, enige ding kan enige tyd aan jou hoek byt en dan moet ‘n man weet wat is wat.

Die einde van die storie is dat die lyn gebreek het, want dié haai was WILD aan daardie lyn en die lyn wat ons daardie dag gebruik het, was nie naastenby sterk genoeg vir so ‘n groot vis/haai nie. En ons is toe haai EN roman kwyt!

Ons het eintlik al begin vergeet hoe ons met daai bootjie getoer het, en het nou die dag weer na bote gekyk en toe weer ‘n “trip down memory lane” gehad.

Daar is nog ‘n ander storie oor ek en Kenny, my daggarokende ‘crewmember’ en Big Boy en die storm waarin ons beland het. En hoe die dolfyne ons huis toe ge-”guide” het. Kenny was een van die beste vissermanne en het so crew gespeel vir almal in die baai. Maar Kenny kon nie visvang as hy nie gerook was nie! Maar die storie vertel ek op ‘n volgende keer.

17 November: - Happy B, Anne-Marie!

Vir jou, Anne-Marie (aka Sonkind).

 birthday.gif

Mag ons nog BAIE verjaarsdae saam wees!