Ek en Kenny, die ou wat ek genoem het in die vorige storie, het een nag besluit om te gaan kreef trek. Kenny was ‘n ou, geharde seeman en het geen perke geken nie.
Saam het ons besluit om ‘n trip om die berg, by Gordonsbaai, te doen. Die weer het nie te sleg gelyk nie en vroegaand vaar ons toe uit by Gordonsbaai se hawe. Daar was vier 25 liter petrolkanne op die skuit en almal was vol. Padlangs is dit so 15km om die berg van Gordonsbaai na Rooiels en nog omtrent 5km na Hangklip. Hier, by Hangklip, het dit destyds nog gewemel van die kreef.
Wel, ons het rustig gevaar oppad na Rooiels, maar om die knikkie by Hangklip was die omstandighede ‘n hele ander storie. Die Suidooste wind lol maar meeste van die tyd in daardie area. Dit is natuurlik ideaal vir duik, want die wind waai meeste van die tyd die water plat en dan is die sig uitstekend. Die diepte wat mens daar kan duik is tussen 15 en 20 voet. (snorkelduik)
Maar duik hier is weer ‘n ander storie vir ‘n ander dag. Hierdie keer wil ek vertel van kreeftrek in die donker en as ek praat van donker duister nag, so erg dat jy skaars jou hand voor jou oë kan sien. Dis natuurlik nie heeltemal ‘kosher’ om in die donker kreef te trek nie, maar dit nou daar gelaat.
My fishfinder was van so ‘n aard dat ek die regte diepte kon kry bepaal, sodat ons nie die hele tou wat vas aan die nette was, hoef af te gooi nie, anders sal dit net te veel tyd neem. Die ‘finder’ het ook vir my gewys daar is beweging op die spesifieke rif.
Ou Kenny het glad nie op hom laat wag nie en sommer die eerste nette ingegooi. Eers die anker uitgegooi natuurlik, om ons lekker vas te hou in die wind, wat al hoe meer aan die optel was. Ek kon nie eintlik vir Kenny sien voor in die boot nie, want dit was donkermaan en ons was basies op die oopsee, met enige ligte van die land af ver weg.
Natuurlik kon ons ook nie ‘n sigaret rook nie of enige lig self maak nie, want lig van enige aard sou moontlik die aandag trek van die seevissery inspekteure.
So het ons een na die ander net gegooi en later weer opgetrek en daar was al hoe meer kreef aan boord! Ons was so besig met die kreef dat ons geensins opgelet het na die storm wat besig was om al hoe nader te kom nie.
Na so drie ure het ek begin ondersoek instel oor hoeveel kreef teen hierdie tyd al op die boot (in die visbakke) is. Goeie fok! Ek het self geskrik toe ek met my hande in die bakke voel, want ek het nie regtig besef hoe vinnig ons die kreef getrek het nie. Net daar en dan het ek vir Kenny gesê, genoeg is genoeg!
Ons het die anker opgetrek en die enjins het begin sing oppad terug om die berg. Teen hierdie tyd was dit omtrent een uur die nag/oggend. Net om die knik by Rooiels het ek tot die besef gekom dat ons vannag ‘n helse pakslae gaan kry op hierdie water. Die wind het intussen Noord gedraai en waai toe reg van voor en ons moet teen die wind in beweeg.
Een genade was dat ek voorheen saam met ou manne op die see was en geluister het toe hulle van kompasse, rigting en grade en so aan, gepraat het. Dit het intussen begin reën en die reën het met tye so hard geval, dat ons letterlik gevoel het of ons onder ‘n stort staan met die krane voluit oop. Ons kon NIKS, nêrens sien nie. Al wat ons kon hoor, was net hoe die boot se neus teen die groot, rollende water slaan en die water se geklots, soos wat dit inrol oor die boot se kante.
Wel, nie ek of Kenny het ‘n woord gepraat nie. Daar was ook nie eintlik tyd vir bang wees nie. Ek het nog probeer koershou met behulp van die kompas, toe dié se liggie net begin flikker en toe heeltemal doodgaan. Nou was ons in ‘n situasie van veg vir ons lewe in hierdie groot water wat rol en rol.
Ek het die boot verder op koers probeer hou, soos wat ek onthou van die laaste wat die kompas nog gewys het. Die enigste lig was die fosfor indie water. Elke keer as die enjin se prop gedraai het in die water, het die fosfor lig gemaak in die water. En toe ek weer kant toe kyk, sien ek dit - ‘n skool dolfyne wat langs die boot begin swem het.
Nou, die ou seemanne se geloof is glo dat, as daar dolfyne langs jou boot kom swem is hulle besig om vir jou die boodskap te gee dat jy veilig is. Ek is nie een wat sommer bygelowe het en allerhande goed glo nie, maar op daardie oomblik wou ek dit glo en het dit ook geglo.
Ons het so bly aansukkel teen die wind en in die stortreën. Die boot was nie te groot nie, so die wind het dit maar lekker rondgeruk. Kenny het op een of ander manier ‘n rookding aangesteek gekry en het met die dolfyne begin gesels. Wat hy als vir daai dolfyne gesê het, kan ek nou nie regtig hier herhaal nie. Ek het maar net met geloof die boot gestuur na die beste van my vermoë in die rigting van Gordonsbaai.
Natuurlik het ek ook geen benul gehad van die petrol situasie in die kanne nie en om die waarheid te sê, ek wou nie weet nie. Die dag het later begin breek en ek kon so op ‘n manier beter rigting kry. Skuins voor 6 vaar ons toe die hawe in.
Ons het natuurlik heeltemal te veel kreef op die boot gehad, maar sou mos nou oorspronklik in die nag terugkom hawe toe en hier is dit toe nou al ligdag. Ons was so pootuit, dat ons regtig nie reguit kon dink nie en het boot met kreef en al uit die water gehaal en net gemaak dat ons wegkom uit die hawe.
Dae later sou ons hoor dat die kreefinspekteure daardie nag die hawe patrolleer het en ons “red handed” sou gevang het, het ons donker nag ingekom. Toe die dag begin breek, het hulle geglo niemand sou dom genoeg wees om nou nog met ‘n vrag kreef in te vaar net en is hulle uit om perlemoenduikers te gaan voorlê.
Wel, die dolfyne was daardie nag my beskermengele in meer as een sin. By die huis het ek uitgevind dat daar slegs nog omtrent ‘n liter petrol oor was in die kanne. Dus, sou ons 2-3 seemyl verder van koers afgegaan het, weet ek nie vandag so mooi wat van my, Kenny en die vrag kreef sou geword het nie, en ook nie as ons vroeër die hawe ingekom het nie!