Twee Wêrelde

Ja, twee wêrelde is presies net wat, en hoe dit is. Jy word gebore, dan moet jy eers kruip voor jy kan loop, ai tog en in hierdie geval is dit tog so waar.

Ek dink ons noem hom sommer die boy’tjie, al is die spelling nie reg nie, want dis nie belangrik nie.

Nou onlangs het die boy’tjie se lewe weer voor hom afgespeel, dit gebeur in sekondes, glo dit of nie. Om ‘n baie lang storie kort te maak, dit het als begin in die vroeë 90’s, toe hy in die peak van sy losbandige lewe was, losbandig is “putting it mildly’ soos die Engelsman sal sê.

Net nog een van Pta (Gauteng) se victims. In sy skooldae het hy goed gevaar en notas van die skool het hom as ‘n goeie voorbeeld beskryf, kan jy glo. Maar gou het volwasse lewe ‘n skuins draai met hom geloop, van ‘n onskuldige paar Castles in die weermag saam met die oumanne, tot ‘n aanhoudende een groot jol.

Tussen die jol deur het daar ‘n huwelik plaasgevind wat nou net ‘n verlangse gedagte is, so ons los maar daardie gedagte net waar hy is en hoort, want dit is maar net beter so.

Anyway, eendag op ‘n reëndag het die boy’tjie te staan gekom voor ’n kort vroutjie met donker hare en ‘n paar blou oë wat my vas in my oë kyk, en daar word die boy’tjie se voetjies onder hom uitgeslaan.

Dit is een van daardie oomblikke in die lewe wat jy nie maklik aan iemand kan verduidelik nie. Die boy’tjie en die blouoog is vandag nog bymekaar.

Die roekelose verlede het amper ‘n skeiding vir ‘n lang tyd tussen hulle gemaak, maar wyse woorde uit haar mond en ‘n bo-natuurlike teenwoordigheid het toe sy gat gered, en hulle is terug na die Wynland, waar daar oseane is wat jy vir ure na kan staar en net nooit moeg word om te kyk nie, om van die berge nie eers te praat nie.

Nou juis, die berge, waaroor die storie gaan. Kyk, berge is berge, maar kom ons loop nie draaie nie. Die Kaapse berge is sonder twyfel van die mooiste in die wereld. Net voor ons te ver in die berge in gaan, moet daar eers so effe na die boy’tjie en die kort blou oog se lewe gekyk word.

Soos almal, is ons ook maar deel van die rotresies, maar gereeld ry ons in die berge in, want dit is daar waar ons diep asem kan intrek sonder om diesel of wat ookal te ruik. Net om in die berge te ry is al genoeg, want ons kan nie altyd oorslaap nie. So, ons dink niks daarvan om 300 – 400 km op ‘n Sondag te ry nie.

Ons ry ook gereeld na Stilbaai waar ons ook op ‘n geleentheid met die bootjie wat ons gehad het, uitgegaan het en met handlyne visse gevang het. Die bootjie se naam was ‘S Myne, want, ja, dit was myne. Ek het gou lief geraak vir die see en geleer van die see, die see en die berge en die kort blouoog het met tyd, my tot kalmte gebring. Nou het dit deel van my lewe geword om dorpies en plekkies te soek wat my gereeld daai kalm lekker warm gevoel gee, en sonder twyfel, sonder die blouoog sal dit nie dieselfde wees nie.

Ons besluit toe om na Montagu te gaan waar die dorpie in die kloof van die berge lê, nie ver van Robertson en Ashton nie. Van Ashton ry jy in die kloof van die berg en dan kry jy Montagu. Ongeveer 70 km verby Montagu lê Barrydale. Hierdie winter is een van die winters wat die berge wit lê van die sneeu en ons het besluit om ‘n drive te vat, soos hul sê, en gou het ek weer daardie stil rustige feeling gekry. Dis regtig sprokies mooi, die heuwels lê wit van die sneeu en die natuurskoon trek my soos ‘n magneet.

Sonder twyfel, weereens sê ek vir haar, dit is hier waar ek sal like om my laaste dae van my lewe deur te bring. Dit sal amper soos Heidi en Peter wees. Ek sal nooit genoeg gekyk kry na die omringende berge nie, hier sal ek en die blouoog sommer lekker lewe en elke dag die lewe waardeer en dinge doen wat mens nie in die alledaagse gejaag na standvastigheid kan doen nie.

Daar sal natuurlik goeie beplanning moet geskied voor ons hier kan kom vestig in die toekoms, maar van hierdie dag af sal ek dit sien as ‘n uitdaging om eendag hier te kan bly, waar ek so graag wil wees. 

2 Responses

  1. Hou so aan….. me like!!!

    Ek’s ook die kaalgat, broeklose ‘tipe’! Seker hoekom ek permanent innie stront is?

    Nice blog…. Moenie ophou nie!!!!!

  2. Ons dink ook daaraan om Montagu of Bonnievale toe te trek . . . vir die rustigheid en om te kan asemhaal . . .

Leave a Reply