Totius (Jakob Daniël du Toit, 1877-1953):
Totius se jukstaponering van die gegoede treinpassasier en die arm meisietjie by die tent wat altwee na mekaar se wêrelde hunker, bly tot vandag toe ‘n treffende uitbeelding van die mens se rustelose strewe na die “beter lewe” wat altyd op ‘n ander plek sou bestaan.
Repos ailleurs (Die rus is elders)
In die eensame veld staan ‘n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
‘n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”
Naas die eensame tent staan ‘n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.
Filed under: Diep dink


