… Water vervolg

… So het ek en die klonkies dag na dag by die plaasdam gaan speel. Die wal van die dam was maar laag en dit was lekker om net so kaalpens op die klam grond te le. Van al die speel in die water het ons gou honger geword, die lemoenbome het daar tot ons redding gekom. Amper asof jy op ‘n eiland is en van die vrugtebome eet.

Dink en droom is tog wat kind moet doen, kind is nie veronderstel om te vroeg in die grootword proses aan die gejaag van more en die dag daarna te dink nie. Ja, die gejaag van elke dag. Soms ook in jou slaap jaag, of gejaag word deur die dinge van more en die dag daarna. Oops, hoor ek dan nou iemand wat graag wil se dat die lewe is nie net maanskyn en rose nie? Ek stem, dit is so. Die handel en wandel van die oubaas lewe is maar net nie soos kind dit sien en ervaar nie. Feite!

Hierdie droom het daar ontstaan, daar waar kind in sy onskuld dalk ver in die toekoms ingesien het, ja, so geloop op die ou stofpad na die water wat met hom gepraat het, elke oomblik wat hy die lou grondwater teen sy lyf gevoel het. Daar het hy geweet die groot stad en sy snelwee, is nie vir hom nie. Gereeld moes ek saam met Ouma dorp toe om inkopies te doen en het altyd so trek-trek aan ouma gevra, ouma, kan ons nou huistoe asb?.

Hierdie ou plaashuis

met sy gronddam en die riethut, is waar ek wou wees.

So het die lewe aangeloop en het ek maar die snelwee aangedurf en sy gejaagde lewe. Nooit het ek daardie gevoel om naby water te wees vergeet nie en later jare wel naby die blouwater kom bly. Gou het ek ‘n visserskuit aangeskaf en het ‘n goeie paar jaar op die water deurgebring.

Met die kwota stelsel het dit sake egter moeilik gemaak en moes ek weer terug keer na die stad met sy snelwee en stofpaaie! Lol!

So val mens vas in die dag tot dag dinge en so besef mens nie altyd dat die tyd nie stil staan nie en kry mens gou jouself in daardie nessie van jou. Daai nessie wat jy dink, sjoe, nou het ek dit gedoen, nes geskrop en hier is dit nou. Feite! Dan ry mens maar daagliks die pad om jou brood te verdien, ai, want dalk dink jy… hoe dan nou anders?

Lol, dan lees mens doer annekant van ‘n pyp wat gerook word so sit-sit op ‘n klip of op die muurtjie.

Ek doen ook die rook ding en het ‘n pyp aangeskaf, moet bieg, hou nogal van dit. Onlangs het ek en liefie so draai gery en daar gaan pypie toe saam. Ons het maar ons plekkie waar ons gaan sit en staar na die blink blou water.

Jip, so het ek die pypie gestop en vir ‘n oomblik my arms laat sak en weer gestaar. My blink Zippo opgetel en die pyp maak brand.

Nou ja, so in die proses van maak brand en trek het ek daar gekyk, ja, daar waar mens beslis nie altyd WIL sien nie. Jaja, in die toekoms in. Net daar het ek sonder twyfel geweet dat dit is wat ek nog altyd van gedroom het. Om daar te bly waar water my omring.

Water is nie vir almal nie en dit verstaan ek al te goed. Vir my en liefie sal dit werk en sy is mal oor die idee om so weg van die stofpad te bly. Lol!

Eendag as ek dan groot is en bly wel in so huis sal ek julle meer vertel.

Water

Hut in die water

Ja, in die water, of dan op die water!

Loop en skopskop in die stofpad of ruik die reuk van water? Dit is maar net, water doen dit vir my. Water het dit nog altyd vir my gedoen. As kind het ek altyd ver gestap na die dam gestap op die plaas en daar gespeel.

Die klonkies van die plaas het ook altyd daar aangekom en kort voor lank was daar ‘n baljaar in die water. Daar het ons mekaar in die water in getrek in gegooi en regtig net geen benul van tyd gehad nie. Gereeld het Ouma so stappie gevat en kom kyk waar is haar kleinkind. Ai, dit is tog maar hoe ouma’s is.

Die woorde was altyd … kom my kind, ons moet in die huis wees voor donker. Dit was moeilik om my uit die water te kry. Soos kind maar is, die bekkie opgeblaas en die pad saam met ouma gestap na die groot plaashuis. Nou ja, dit was daar waar ek besef het so in die stap op die stofpad waar ek ook gedink het dat ek eerder in die water wil wees, nie hier op die ou stofpad nie.

Maar nou ja, die ou stofpad na die dam het ek gereeld gestap. Later van tyd het ek en die klonkies besluit om ‘n riethut te bou, so klipgooi weg van die water. Naby die water was daar ‘n groot rietbos, m.a.w daar was meer as genoeg riet om nogal ‘n ougat hut te bou.

So gestap na die dam kon jy die hut sien. Dit is daar waar ek besef het dat ek sal eendag regtig in so hut wil bly. By die water of baie naby aan die water natuurlik.

Soos Hier!

….. Word vervolg……

Sommer net!

Die Boom van alle ….

Ek wonder oor hierdie boom…

Son …

Ek wil so graag vir jou sê
Dat ek my hart vir jou sal gee
Op ‘n silwer skinkbord en met liefde garneer
Dat ek jou nooit sal verneuk nie
En wil jou saamvat vir vakansies by die see.

Ek wil hê jy moet verstaan
Jy maak my mal, gelukkig en skaam

Ek wil hê dat jy in my oë moet inkyk
En sien hoe ek oor jou voel
Want dis nie altyd maklik om dit te gelyk
Ek is partykeer in my kettings en spinnerakke toegewoel

Ek is bang dat ek jou sal verveel
Bang vir iets kosbaar en breekbaar
Vreesbevang vir ‘n tree in die donker
Dat ek jou hart sal beseer.

Ek wil jou elke dag by my hê
Jou hand vashou in die kerk
En aan jou dink by die werk
Jou beskerm teen pyn en leed
Ek wil he jy moet weet.

- Manie Geldenhuys

Daar’s ‘n trein…

En hy is nie oppad na Matjiesfontein nie! Ek praat natuurlik hier van Japannese treine.

shinkansen.jpg

Mens sal nooit kan dink hoeveel mense daagliks met treine van punt A na punt B ry nie. Soos in meeste ander lande kan mens maandkaartjies koop en met daardie kaartjie kan jy dan in alle rigtings ry. Jy koop die kaartjie volgens die afstand wat jy ry, so dit maak nie saak in watter rigting jy gaan nie.

Daar is so baie treine en almal is ‘n ander kleur. Die groen treine is amper soos ons destydse melktrein wat op elke stasie stop. Net so terloops, daar is hierdie Japanese vrouestem wat jou heeltyd als vertel van die area waardeur die trein ry en sy vertel jou ook van die naaste winkels en wat jy alles daar kan koop en die pryse daarvan. Dit is natuurlik n bonus, maar die toon van die stem is nie altyd so aangenaam nie, om die minste te sê. Dit kan naderhand erg op mens se senuwees begin werk.

Die rooibruin treine is dié wat basies net by die hoofstasies stop en is ook effens vinniger as die groen treine. Hulle sal bv. op Jhb se stasie stop en dan weer in Pta, hulle stop by geen klein stasies nie. Dan is daar natuurlik by die moltreine, Hulle loop vir kilometers en kilometers onder die grond en ek kan nou nog onthou dat hulle nogal vinnig is. Die uitleg daarvan is ook anders as die groen en die rooibruin treine, wat bogronds op die gewone spore loop.

Ek het my verstom die eerste paar kere wat ek so onder die grond met die treine gery het. As mens van die trein afklim, is jy direk binne-in n winkelsentrum. Meeste van die winkelsentrums het vlakke. Omdat die land so oorbevolk is, is daar BAIE sentrums en ook baie mense in hierdie sentrums. Omdat dit nie werklik dag of nag in hierdie sentrums is nie, het dit gereeld gebeur dat ek heeltemal tred verloor het met die tyd. Daar is natuurlik rekenaarspeletjies in hierdie sentrums en as ek praat van speletjie-sentrums, dan praat ek van ‚n area so groot soos een straatblok, waar kinders hulle tyd spandeer aan hierdie speletjies.

En laastens, maar nie die minste nie, is daar die Romanscar en die Bullet trein (shinkansen). Die Romanscar is net n meer opgedolliede trein. Waar die Bullet basies soos ‚n vliegtuig binne lyk, is die Romanscar net meer vyfster. As ek reg onthou dan doen die Bullet n spoed van amper 300km per uur en die Romanscar doen +- 200km per uur.

So, een van die dae het ons mos die Gautrein – wonder of hy hierby gaan kan kers vashou?!

Op die oop see!

Ons was gister by Houtbaai uit met een van die talle bote wat toeriste uitneem na die rob-eiland. Dit was SO lekker!

Hier is waar ek baie maklik die grootste deel van my lewe sal wil deurbring:

Merry Christmas!

To everybody!

 

Oom Totius sê …

Totius (Jakob Daniël du Toit, 1877-1953):

Totius se jukstaponering van die gegoede treinpassasier en die arm meisietjie by die tent wat altwee na mekaar se wêrelde hunker, bly tot vandag toe ‘n treffende uitbeelding van die mens se rustelose strewe na die “beter lewe” wat altyd op ‘n ander plek sou bestaan.

Repos ailleurs (Die rus is elders)

In die eensame veld staan ‘n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;

ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
‘n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”

Naas die eensame tent staan ‘n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.

Die kreef, donker en toe die storm!

Ek en Kenny, die ou wat ek genoem het in die vorige storie, het een nag besluit om te gaan kreef trek. Kenny was ‘n ou, geharde seeman en het geen perke geken nie.

Saam het ons besluit om ‘n trip om die berg, by Gordonsbaai, te doen. Die weer het nie te sleg gelyk nie en vroegaand vaar ons toe uit by Gordonsbaai se hawe. Daar was vier 25 liter petrolkanne op die skuit en almal was vol. Padlangs is dit so 15km om die berg van Gordonsbaai na Rooiels en nog omtrent 5km na Hangklip. Hier, by Hangklip, het dit destyds nog gewemel van die kreef.

Wel, ons het rustig gevaar oppad na Rooiels, maar om die knikkie by Hangklip was die omstandighede ‘n hele ander storie. Die Suidooste wind lol maar meeste van die tyd in daardie area. Dit is natuurlik ideaal vir duik, want die wind waai meeste van die tyd die water plat en dan is die sig uitstekend. Die diepte wat mens daar kan duik is tussen 15 en 20 voet. (snorkelduik)

Maar duik hier is weer ‘n ander storie vir ‘n ander dag. Hierdie keer wil ek vertel van kreeftrek in die donker en as ek praat van donker duister nag, so erg dat jy skaars jou hand voor jou oë kan sien. Dis natuurlik nie heeltemal ‘kosher’ om in die donker kreef te trek nie, maar dit nou daar gelaat.

My fishfinder was van so ‘n aard dat ek die regte diepte kon kry bepaal, sodat ons nie die hele tou wat vas aan die nette was, hoef af te gooi nie, anders sal dit net te veel tyd neem. Die ‘finder’ het ook vir my gewys daar is beweging op die spesifieke rif.

Ou Kenny het glad nie op hom laat wag nie en sommer die eerste nette ingegooi. Eers die anker uitgegooi natuurlik, om ons lekker vas te hou in die wind, wat al hoe meer aan die optel was. Ek kon nie eintlik vir Kenny sien voor in die boot nie, want dit was donkermaan en ons was basies op die oopsee, met enige ligte van die land af ver weg.

Natuurlik kon ons ook nie ‘n sigaret rook nie of enige lig self maak nie, want lig van enige aard sou moontlik die aandag trek van die seevissery inspekteure.

So het ons een na die ander net gegooi en later weer opgetrek en daar was al hoe meer kreef aan boord! Ons was so besig met die kreef dat ons geensins opgelet het na die storm wat besig was om al hoe nader te kom nie.

Na so drie ure het ek begin ondersoek instel oor hoeveel kreef teen hierdie tyd al op die boot (in die visbakke) is. Goeie fok! Ek het self geskrik toe ek met my hande in die bakke voel, want ek het nie regtig besef hoe vinnig ons die kreef getrek het nie. Net daar en dan het ek vir Kenny gesê, genoeg is genoeg!

Ons het die anker opgetrek en die enjins het begin sing oppad terug om die berg. Teen hierdie tyd was dit omtrent een uur die nag/oggend. Net om die knik by Rooiels het ek tot die besef gekom dat ons vannag ‘n helse pakslae gaan kry op hierdie water. Die wind het intussen Noord gedraai en waai toe reg van voor en ons moet teen die wind in beweeg.

Een genade was dat ek voorheen saam met ou manne op die see was en geluister het toe hulle van kompasse, rigting en grade en so aan, gepraat het. Dit het intussen begin reën en die reën het met tye so hard geval, dat ons letterlik gevoel het of ons onder ‘n stort staan met die krane voluit oop. Ons kon NIKS, nêrens sien nie. Al wat ons kon hoor, was net hoe die boot se neus teen die groot, rollende water slaan en die water se geklots, soos wat dit inrol oor die boot se kante.

Wel, nie ek of Kenny het ‘n woord gepraat nie. Daar was ook nie eintlik tyd vir bang wees nie. Ek het nog probeer koershou met behulp van die kompas, toe dié se liggie net begin flikker en toe heeltemal doodgaan. Nou was ons in ‘n situasie van veg vir ons lewe in hierdie groot water wat rol en rol.

Ek het die boot verder op koers probeer hou, soos wat ek onthou van die laaste wat die kompas nog gewys het. Die enigste lig was die fosfor indie water. Elke keer as die enjin se prop gedraai het in die water, het die fosfor lig gemaak in die water. En toe ek weer kant toe kyk, sien ek dit – ‘n skool dolfyne wat langs die boot begin swem het.

Nou, die ou seemanne se geloof is glo dat, as daar dolfyne langs jou boot kom swem is hulle besig om vir jou die boodskap te gee dat jy veilig is. Ek is nie een wat sommer bygelowe het en allerhande goed glo nie, maar op daardie oomblik wou ek dit glo en het dit ook geglo.

Ons het so bly aansukkel teen die wind en in die stortreën. Die boot was nie te groot nie, so die wind het dit maar lekker rondgeruk. Kenny het op een of ander manier ‘n rookding aangesteek gekry en het met die dolfyne begin gesels. Wat hy als vir daai dolfyne gesê het, kan ek nou nie regtig hier herhaal nie. Ek het maar net met geloof die boot gestuur na die beste van my vermoë in die rigting van Gordonsbaai.

Natuurlik het ek ook geen benul gehad van die petrol situasie in die kanne nie en om die waarheid te sê, ek wou nie weet nie. Die dag het later begin breek en ek kon so op ‘n manier beter rigting kry. Skuins voor 6 vaar ons toe die hawe in.

Ons het natuurlik heeltemal te veel kreef op die boot gehad, maar sou mos nou oorspronklik in die nag terugkom hawe toe en hier is dit toe nou al ligdag. Ons was so pootuit, dat ons regtig nie reguit kon dink nie en het boot met kreef en al uit die water gehaal en net gemaak dat ons wegkom uit die hawe.

Dae later sou ons hoor dat die kreefinspekteure daardie nag die hawe patrolleer het en ons “red handed” sou gevang het, het ons donker nag ingekom. Toe die dag begin breek, het hulle geglo niemand sou dom genoeg wees om nou nog met ‘n vrag kreef in te vaar net en is hulle uit om perlemoenduikers te gaan voorlê.

Wel, die dolfyne was daardie nag my beskermengele in meer as een sin. By die huis het ek uitgevind dat daar slegs nog omtrent ‘n liter petrol oor was in die kanne. Dus, sou ons 2-3 seemyl verder van koers afgegaan het, weet ek nie vandag so mooi wat van my, Kenny en die vrag kreef sou geword het nie, en ook nie as ons vroeër die hawe ingekom het nie!